Reims

Reims

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Frankryk Frankryk
 Région (gewes) Grand Est
 Département Marne
 Koördinate 49°15′N 4°02′O / 49.250°N 4.033°O / 49.250; 4.033
 Stigting 80 v.C. (Durocorter)
 Oppervlakte:  
 - Totaal 46,9 vk km
 Hoogte bo seevlak 80–135 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2019) 181 194
 - Bevolkingsdigtheid 3 900/vk km
 Tydsone UTC +1 (MEST)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Burgemeester Arnaud Robinet (LR)
 Amptelike webwerf reims.fr

Reims (Frans: [ʁɛ̃s], ), wat in Frans ook la Cité des Sacres of "Kroningsstad" genoem word nadat Franse konings eeue lank in die plaaslike katedraal gekroon is, is 'n stad in die noordooste van Frankryk met 'n oppervlak van 46,9 vierkante kilometer en 'n bevolking van 184 400 (2004).

Die Saint Rémi-basiliek maak deel uit van die gelyknamige abdy. Hier is eeue lank die olie bewaar waarmee Franse konings tydens hul kroningsplegtigheid gesalf is
Art Deco-saal in Reims se operahuis

Reims lê sowat 130 kilometer noordoos van Parys in die département Marne, wat deel uitmaak van die administratiewe gewes (région) Grand Est. Die stad trek voordeel uit sy strategiese ligging in die noord-ooste van die Paryse Bekken. Reims is die dertiende grootste stad in die land, terwyl sy metropolitaanse gebied tans as die 29ste grootste in Frankryk geranglys word. Ondanks sy groot inwonertal is Reims nog die hoofstad van sy département nog dié van sy administratiewe gewes.

Die katedraal van Reims is die bekendste baken van die stad, en sy Gotiese argitektuur het wêreldfaam vanweë sy volmaakte proporsies en sy rykdom aan kerkvensters en beeldhouwerke. Ander belangrike besienswaardighede is Reims se Art Deco-geboue. Ná die verwoestinge van die Eerste Wêreldoorlog is die middestad grotendeels in dié styl heropgebou.

Naas sy historiese rol as Franse kroningsstad, die plek waar die Frankiese koning Clovis I in 498 die Christelike doop ontvang het en as die geboortestad van Jean-Baptiste Colbert en Saint-Jean-Baptiste de la Salle het Reims internasionale bekendheid verwerf as die hoofstad van die Franse sjampanje-nywerheid, en talle bekende wynkelders het hulle hoofkwartiere in die stad. Die wynbedryf het ook die plaaslike kookkuns bevorder sodat Reims met 'n groot aantal eersterangse restourante pronk.

Reims se Notre-Dame-katedraal, die historiese Saint Rémi-abdy en die Tau-paleis is deur Unesco tot wêrelderfenis verklaar, net soos die sjampanje-huise en -wynkelders in die omgewing. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search